Hadj

Pelgrims in die Al-Masdjid al-Haram op die hadj van 2010.
Die Kaäba in die nag.

Die hadj of gadj (Arabies: الحجّ) is ’n jaarlikse Islamitiese pelgrimstog, of bedevaart, na Mekka wat elke Moslem wat fistiek en finansieel daartoe in staat is, minstens een keer in sy of haar leeftyd moet onderneem.[1][2][3] Dit is een van die Vyf Pilare van die Islam.

Die hadj is een van die grootste jaarlikse byeenkomste van mense in die wêreld.[4] Dit is ’n demonstrasie van die solidariteit van Moslems en hul aanbidding van een God (Allah).[5][6]

Die bedevaart vind plaas van die 8ste tot die 12de (of soms 13de)[7] Dhu'l Hidjdja, die laaste maand van die Islamitiese kalender. Omdat dit ’n maankalender is in teenstelling met die Gregoriaanse kalender, ’n sonkalender, is die Islamitiese jaar sowat 11 dae korter as ’n Gregoriaanse jaar, en daarom verskil die Gregoriaanse datum van die hadj van jaar tot jaar. Ihram is die naam van die spesiale spirituele toestand waarin pelgrims twee wit stukke naatlose materiaal dra en hulle van sekere dade weerhou.[5][8][9]

Die hadj word verbind met die lewe van die profeet Mohammed uit die 7de eeu, maar Moslems glo die pelgrimsritueel na Mekka dateer van duisende jare gelede uit die tyd van Abraham. ’n Paar miljoen mense besoek Mekka vir die week van die hadj en voer ’n aantal rituele uit: Hulle loop sewe keer antikloksgewys om die Kaäba (die vierkantige gebou in die middel van Al-Masdjid al-Haram in Mekka, en die rigting van gebed), loop of hardloop heen en weer tussen die heuwels Safa en Marwa, drink uit die Zamzam-put, gaan vir ’n nagwaak na Berg Arafat, bring ’n nag deur op die vlakte van Moezdalifa en voer ’n simboliese steniging van die duiwel uit deur klippe na drie pilare te gooi. Die pelgrims skeer dan hul hare, doen mee aan ’n ritueel van diereoffering en vier die drie dae lange fees Eid-oel-Adha.[10][11][12]

Pelgrims besoek Mekka ook ander tye van die jaar om dié rituele uit te voer. Dit word soms oemra, of ’n "mindere pelgrimstog", genoem. Hulle moet egter steeds die hadj onderneem as hulle kan.

  1. Long, Matthew (2011). Islamic Beliefs, Practices, and Cultures. Marshall Cavendish Corporation. p. 86. ISBN 978-0-7614-7926-0. Besoek op 2 September 2014.
  2. Nigosian, S. A. (2004). Islam: Its History, Teaching, and Practices. Indiana: Indiana University Press. p. 110. ISBN 0-253-21627-3.
  3. Berkley Center for Religion, Peace, and World Affairs – Islam Geargiveer 2 Oktober 2011 op Wayback Machine Sien "Islamic Practices"
  4. Mosher, Lucinda (2005). Praying: The Rituals of Faith. Church Publishing, Inc. p. 155. ISBN 978-1-59627-016-9. Besoek op 18 September 2014.
  5. 5,0 5,1 Nigosian, S. A. (2004). Islam: Its History, Teaching, and Practices. Indiana: Indiana University Press. p. 111. ISBN 0-253-21627-3.
  6. Hooker, M. B. (2008). Indonesian Syariah: Defining a National School of Islamic Law. Institute of Southeast Asian Studies. p. 228. ISBN 9789812308023. Besoek op 6 Oktober 2014.
  7. "13th of Zil Hajj". heliohost.org (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2019. Besoek op 7 September 2016.
  8. "ihram".. (2014). URL besoek op 6 Oktober 2014. 
  9. "Ihram – Summary". Hajj Portal. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Julie 2008. Besoek op 20 November 2013.
  10. Karen Armstrong (2002). Islam: A Short History. Modern Library Chronicles (Hersien uitg.). Modern Library. pp. 10–12. ISBN 0-8129-6618-X.
  11. Anisa Mehdi; John Bredar (2003). "Inside Makkah". National Geographic Society.
  12. "Eid ul Adha" (in Engels). BBC. 7 September 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2019. Besoek op 30 Desember 2012.

Developed by StudentB